Pages

Sunday, 26 February 2012

‘Dominee, maar jy is soos ’n kleurling’

Sien ook DIE BELYDENIS VAN BELHAR: MEMORANDUM OPGESTEL DEUR GENL. JOHAN VAN DER MERWE IN OORLEGPLEGING MET OUD-LEDE VAN DIE SA POLISIEMAG EN ANDER GELOWIGES

2012-02-24 22:39
Deur Dirk Kok

Dr. Dawid Kuyler. ’n TV-program oor sy werk as tronk-kapelaan word tans vervaardig vir Issues of Faith.

’N KWARTEEU lank al word daar oor die Belydenis van Belhar geredekawel, verskil en baklei. Die een is daarvóór. Die ander daartéén.

Vir die kwarteeu lank wat dit al woel oor Belhar, is Bloemfontein se dr. Dawid Kuyler ’n Belhar-man in murg, been en siel.

In 1986 het hy in Belhar, op die ou NG Sendingkerk se sinode, sy ja-stem gegee vir dié belydenis. Hy was die jong, wit dominee van die NG sendingkerk Koelenhof vir bruin wynplaaswerkers.

Verlede jaar het hy as skriba van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) “met trane van blydskap” toegekyk hoe sy broers en susters van die NG Kerk op hul algemene sinode in Boksburg met ’n meerderheid van 90% vra dat Belhar deel van die kerk se belydenisgrondslag moet word.

Kuyler, kapelaan van die private Mangaung-tronk vir gevaarlike misdadigers, medeleraar van ’n gemeente in die tradisioneel bruin woonbuurt ­Heidedal, kerkleier en dosent, sê sy oë het oopgegaan in sy studentejare op Stellenbosch en in die Koelenhof-kerk waar hy verantwoordelik was vir die pastorale versorging van plaaswerkers sonder regte.

“My pa-hulle was Nasionaliste, so ek het in daardie dampkring van apartheid grootgeword en eers goed begin bevraagteken en ’n ander perspektief begin kry in die filosofieklas van prof. Willie Esterhuyse en op kweekskool toe ek die wonderlike voorreg gehad het om klas te hê by proff. Willie Jonker en Nico Smith. Volkekunde het my ook ’n ander prentjie gegee oor swart mense. Daar het ’n hele klomp skuiwe gekom in my manier van dink.”

En toe, in 1985, word hy beroep as leraar van die Koelenhof-kerk.

“Ek het twee goed daar geleer. Die een was dat my gemeentelede, net soos ek, mens was. Ek kon nie meer na hulle kyk deur die bril van apartheid en kleur nie. Hulle was mense vir wie ek verantwoordelik was. Ek het ook beleef hoe mense afgebreek is omdat hulle geen geleenthede en moontlikhede gehad het nie.

“Dit het my oë oopgemaak. Ek moes vir myself vra: Wat beteken die evangelie in sulke omstandighede?”

Dit was die ontstuimige jare van die “noodtoestand”.

“Dit was ’n slegte tyd met die veiligheidspolisie wat ons geteister het omdat ons een van ons twee kerkskole beskikbaar gestel het om vakbonde vir plaaswerkers te stig, wat nog onwettig was. Van my kollegas is sonder verhoor toegesluit. Die stryd teen apartheid is op verskillende vlakke gevoer. Plaaswerkers was die weerloosste. Daar was nie die nuwe wette oor afsetting en minimum lone nie en hulle het nog deurgeloop onder die dopstelsel. Vir daardie ouens om vas te byt en Belhar te ondersteun, het van hulle helde gemaak, net soos die ander struggle-helde.”

In daardie jare was hy ietwat van ’n “stoute outjie”.

Hy onthou ’n dag wat hy “so ’n bietjie vir ’n veiligheidspolisieman ‘gepreek’ het dat hy hom vir sy werk behoort te skaam”.

Sy gemeentelede mag nie in die see geswem het by Bettiesbaai waar wyle dr. Hendrik Verwoerd eens ’n huis gehad het nie. Die jong ds. Kuyler het “aspris” saam met sy kerkmense daar geswem.

In daardie kerk het hy die mooiste ding in sy lewe gehoor. ’n Kerkraadslid se woorde was: “Dominee, ek hoop nou nie jy gee om nie, maar jy is soos ’n kleurling.”

Oor al hierdie dinge het hy Belhar gekies.

Vir sommiges was en is hy ’n verraaier.

“My belewenis was dat dit vir sommige NG dominees moeilik was om ’n ou te hanteer wat ook wit is, maar deel van die swart kerk. Ouens het jou gesien as ’n verraaier. Dit was dikwels die belewenis, want jy was nie solidêr met hulle nie. Maar weet jy, die ondersteuning en solidariteit van my swart kollegas het meer as opgemaak vir al daardie dinge. Vir my gaan dit nie oor ’n rasse-issue nie, maar oor ’n geloof-issue: Waar staan ek?

“Omdat ek in die NG Kerk grootgeword het, was dit vir my dikwels in ons gesprekke maklik om te verstaan wat sit agter spesifieke denkwyses. Ek dink dit het sommige ouens kwaad gemaak. Daar was ook baie goeie NG Kerk-kollegas wat oor die jare heen pro-Belhar was. ’n Ou kan nie almal oor dieselfde kam skeer nie.”

Oor verlede jaar se besluit van die NG Kerk-sinode in Boksburg is hy dankbaar.

“Ek glo die Here het sy Gees oor daardie vergadering gelei. Dit stuur ’n positiewe boodskap uit dat die NG Kerk regtig ’n nuwe koers wil inslaan.”

Die Belydenis van Belhar is nié die monster wat sommige mense dink dit is nie, sê Kuyler.

“As jy met ’n vooropgestelde persepsie na Belhar kyk, kan jy nie altyd sy waarde ontdek nie. As NG mense Belhar lees en jy haal die opskrif uit en hulle weet nie dit is Belhar nie, dan het hulle geen probleem daarmee nie. Ons het dit in Bloemfontein getoets en ’n ou tannie dit in ’n ouetehuis laat uitdeel. Hulle het geen probleem daarmee gehad nie. Ek dink dominees speel ’n geweldige rol daarin hoe daar na Belhar gekyk word. In die plekke in die NG Kerk waar Belhar aanvaar is, is dit waar dominees ruimte geskep het en gesê het kom ons lees dit en laat die belydenis self met ons praat.

“Die Pellisier-gemeente het al jare terug Belhar aanvaar. Niemand het hulle gedwing nie. Hulle het besluit om dit te lees en te bestudeer. Ek dink die ouens met ’n klomp argumente teen Belhar het vergeet ander belydenisskrifte het ook in kontekste ontstaan en veral in baie sterk politieke kontekste. Jy kan nie Belhar losmaak van sy ontstaanskonteks nie, maar jy moet vra wat wou Belhar in daardie konteks sê.”

In Amerika en Duitsland word Belhar gebruik om onderskeidelik uitdagings weens die destydse rasseskeiding en die instroming van immigrante te pak vir kerkeenheid in diversiteit.

“Dit is vir my wonderlik dat Belhar nie meer aan die VGK behoort nie en ander mense dit gebruik om hul uitdagings aan te pak. Dit behoort dieselfde in Suid-Afrika te wees. Kom ons vat Belhar en kyk wat sê dit oor eenheid en versoening, maar ook oor geregtigheid. Want sonder geregtigheid kan jy nie versoening hê nie. Dit gaan nie net oor die herstel van geregtigheid nie, maar oor compassionate justice waarvan Dirkie Smit praat.

“Ek dink Belhar is nogal soos ’n staf of ’n kierie wat jou kan help. Dit is nie ’n stok waarmee jy ouens slaan nie. Dit help jou besef die kerk behoort aan die Here en al die mense, uit verskillende groepe, is almal die Here se kinders in een kerk en ons het mekaar nodig.

“Die Here het ons bymekaar gebring en ons móét die voorbeeld van versoening leef in ’n land en wêreld met soveel spanning en verdeeldheid. Die kerk moet sê: ‘Kyk hoe kán ons saamleef’. Dit is vir my sleg dat kinders by skole die voorbeeld stel van hoe mense oor alle grense heen een kan wees en die kerk doen dit nie.

“Die kerk het sy taak by die Here gekry om toe te sien dat reg en geregtigheid sal geskied, en dat ons sal omgee vir alle vorme van nood van mense en dat die kerk die stem sal word wat namens hulle praat en ook die hand wat hulle sterk. Belhar se laaste artikel oor gehoorsaamheid word soms deur mense vergeet: dat ons aan die Here gehoorsaam sal wees en nie bang sal wees wat die wêreld en mense sê nie. As ek moet kies tussen wat mense sê en wat die Here sê, dan is dit obvious.”

Kuyler sê hy sal graag ’n gereformeerde kerk in Suid-Afrika wil sien wat regtig verteenwoordigend is van alle mense en rasse en wat ’n rol kan speel in versoening en geregtigheid.

“Ek sal graag ’n kerk wil sien waar mense verantwoordelikheid vir mekaar aanvaar en dit in liefde doen. Dit is vir my baie keer sleg as ouens van oorsee kom en in die townships tuisgaan en gemeentes daar besoek, terwyl daar ouens aan die ander kant van die treinspoor is wat nog nooit daar was nie. Dit is ook lekker om te sien as NG lidmate grense oorsteek en hulle vertel jou hoe dit hulle verryk het.

“As die Here met my ’n pad geloop het en my met die jare kon verander, veral deur blootstelling, kan ander ook grense oorsteek sonder om bang te wees. Dit is vir my steeds ’n avontuur. Ek leer elke dag nuwe dinge.

“Dit is veral belangrik vir ons middeljarige ouens wat dit aan ons kinders skuld om ’n beter Suid-Afrika agter te laat.”

Vind die oorspronklike Volksblad artikel HIER

2 comments:

  1. 'n Beter Suid-Afrika vir ons kinders agterlaat?? Ons het Raka by die statshekke ingelaat en dit is te betwyfel of die erwe van ons vaadr'e vir ons kinders erwe sal wees...

    ReplyDelete
  2. Jy's deurmekaar,ou. Hou op TV kyk en as jy wit is, hoop en bid dat jou kleinkinders ook nog wit sal wees. Met jou manier van dink sal dit 'n wonderwerk wees. Ek is ook middeljarig. Ek het ook sendingwerk gedoen. Ek het ook konserwatief groot geword. Ek was ook eens besimpeld en liberaal. Kom reg. Besef wie jy is en hou op om jammer te se oordat jy wit is. (Belhar klink vir my soos Bileam)

    ReplyDelete