Thursday 9 February 2012

DIE BELYDENIS VAN BELHAR: MEMORANDUM OPGESTEL DEUR GENL. JOHAN VAN DER MERWE IN OORLEGPLEGING MET OUD-LEDE VAN DIE SA POLISIEMAG EN ANDER GELOWIGES


Deur Genl. Johan van der Merwe
1. Die Algemene Sinode van die NG Kerk het in 2011 besluit om die Belydenis van Belhar op kerkordelike wyse deel van die NG Kerk se belydenisgrondslag te maak en dit aan die Moderamen opgedra om die nodige kerkordelike prosesse hiervoor in werking te stel. Die Moderamen het uit hoofde van die opdrag te kenne gegee dat dit hulle verantwoordelikheid is om dit te doen met die heel beste inligting, studiemateriaal en gespreksgeleenthede. Ek het in die lig daarvan hierdie memorandum in oorlegpleging met oud-lede van die Suid-Afrikaanse Polisiemag en die hulp van ander gelowiges opgestel. Die doel is dat die memorandum  as feitegrondslag vir die Moderamen uit die hoek van oud-lede van die SA Polisiemag moet dien. Lede van die SA Polisiemag het hulle gedurende die onstuimige tydperk in die geskiedenis van Suid-Afrika toe die Belydenis van Belhar tot stand gekom het, daagliks in die spervuur van konflik en geweld bevind. Hulle moes elke dag die wrange vrugte pluk van geestelike leiers wat in kerklike gewaad rewolusionêre bedrywighede bedryf het wat regstreeks of onregstreeks bygedra het tot die dood en verminking van burgerlikes, onder wie weerlose vrouens en kinders.  
2. Ek het bloot met sekere oud-lede wat nou betrokke was by die rewolusionêre stryd oorleg gepleeg wat die feite betref en wil hoegenaamd nie die indruk wek dat hierdie memorandum die standpunt van alle oud-lede van die SA Polisiemag verwoord nie. Ek stel my persoonlike standpunt oor die aanvaarding van die Belydenis van Belhar. Ek beskou dit as elke oud-lid wat aan die NG Kerk verbonde is se reg om persoonlik oor die aanvaarding daarvan standpunt in te neem. Daar is meer as 15 000 blanke oud-lede van die Polisie. Dit is onbekend hoeveel van hulle lidmate van die  NG Kerk is. Dit is gevolglik onmoontlik om met almal landwyd in verbinding te tree. Die oud-lede met wie ek oorleg gepleeg het, is wel landwyd versprei.

3. Ek het oor verskeie feite in die memorandum onder eed voor die Waarheid- en Versoeningskommissie (WVK) getuig. Tydens die aflê van my getuienis was die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke deur 'n senior advokaat en regspan verteenwoordig. Geeneen van hulle het my getuienis  in twyfel getrek of betwis nie. Feite staaf die besonderhede wat ek verstrek.
4. Oor die ontstaan en aanvaarding van die Belydenis van Belhar het reeds verskeie boeke deur teoloë die lig gesien waarin daar uiteenlopende, botsende, verwarrende gegewens en standpunte verskyn. Oor die jare heen is daar hard gepoog om die Belydenis van sy politieke mantel te stroop.  Die Belydenis was van meet af aan in omstredenheid gedompel wat met die verloop van tyd al hoe meer toegeneem het. 
5. Die ANC/SAKP en ander rewolusionêre organisasies het met die hulp van die Sowjetunie, regslui en geestelike leiers, daarin geslaag om 'n stryd wat hoofsaaklik om politieke mag gegaan het, op 'n slinkse wyse te verdoesel deur apartheid as die euwel waarteen die stryd gerig was, voor te hou.  Geestelike leiers wat hulle by  die rewolusionêre aanslag geskaar het, moes noodwendig hulle bedrywighede uit 'n teologiese oogpunt regverdig om legitimiteit en geloofwaardigheid aan hulle optrede te verleen. Onder dié leiers was dr. Allan Boesak, visepresident van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en voorsitter van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke en dr. Beyers Naudé, sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke. Hulle het 'n deurslaggewende rol  gespeel in die skepping van 'n klimaat wat tot die aanvaarding  van die Belydenis van Belhar deur die Sinode van die NG Sendingkerk gelei het. Só is die steun van Westerse lande asook akademici, regslui en geestelike leiers bekom wat teen apartheid gekant was. Hulle het 'n nuttige werktuig in die hande van die ANC/SAKP geword vir wie dit hoofsaaklik om politieke mag gegaan het. Selfs geharde ondersteuners van die ANC erken vandag openlik dat hulle deur die vroom praatjies van ANC-leiers mislei is.
6. Verskillende bronne gee verskillende weergawes oor die verloop van die sinodesitting van die destydse NG Sendingkerk gedurende 1982 te Belhar waartydens die Belydenis van Belhar opgestel is. Volgens bewese gegewens was dr. Boesak aan die spits van verskeie drukgroepe wat hulle beywer het om apartheid as 'n “pseudo-religieuse ideologie wat deur die Gereformeerde Kerke ontwikkel en geregverdig is,” te brandmerk.  Al die bronne wat ek aanhaal, bevestig dit. Dr. Boesak het hom daarop toegespits om 'n strategie te ontwerp wat daarop gemik was om die sitting van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke, wat in Augustus 1982 in Ottawa sou vergader, te manipuleer. In 1981 het “The Alliance of Black Reformed Christians in Southern Africa” onder voorsitterskap van dr. Boesak by Hammanskraal vergader. In sy openingsrede het dr. Boesak gepleit dat daar 'n “swart” herontdekking van die basiese gereformeerde oortuigings binne die Suid-Afrikaanse situasie moet plaasvind. Hy het hom onder meer soos volg uitgelaat: “I indeed believe black Christians should formulate a Reformed Confession for our time and our situation in our own words.” Die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke het gedurende 1982 in Ottawa vergader waar dr. Boesak die Wêreldbond oorreed het om die “pseudo-evangelie” apartheid as kettery en sonde te verklaar. Daar is feitlik woordeliks deur die Bond aan die versoek van dr. Boesak voldoen en die NG Kerk asook die Hervormde Kerk is uit die Wêreldbond geskors. Dr. Boesak is as voorsitter van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke verkies.
6.1 Die sinodesitting van die NG Sendingkerk het gedurende Oktober dieselfde jaar plaasgevind. Volgens al die bronne is dit duidelik dat die sinodesitting deur ernstige tweespalt en 'n verborge agenda gekenmerk is en dat 'n drukgroep onder leiding van dr. Boesak ‘n toonaangewende rol  gespeel het. Daar is weinig twyfel dat dr. Boesak dieselfde strategie gevolg het wat hy met groot welslae tydens die sitting van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke gebruik het. Die eerste dag van die sinodesitting het in 'n chaos ontaard toe 'n ordemosie ingedien is dat blanke leraars wat beide lidmate van die NG Kerk en NG Sendingkerk was nie sitting op die sinode behoort te hê nie.  Daar bestaan geen twyfel dat dié leraars as 'n struikelblok in die uitvoering van die verborge agenda beskou is nie. Die vergadering wat in daardie stadium nog nie eens gekonstitueer was nie, moes verdaag om die regskommissie 'n geleentheid te gee om oor die ordemosie se regsgeldigheid te beslis. Die sinodesitting het die volgende dag hervat en nadat dit gekonstitueer is het die voorsitter aan die hand van die regskommissie se mening beslis dat die blanke leraars wat nog lidmate van die NG Kerk is, wel sitting en stemreg het. Dr. Boesak en 7 ander afgevaardigdes het gevra dat hulle beswaar teen die beslissing met vermelding van redes genotuleer moes word. Later die oggend het die verkiesing van die nuwe moderatuur plaasgevind en die verloop daarvan het weer duidelik bewys dat daar 'n verborge agenda bestaan het. Dr. Boesak en ds. I.J. Mentor was albei kandidate vir die amp van moderator. Ds. Mentor is met 242 stemme verkies teenoor dr. Boesak se 235. Indien die blanke leraars wat dubbele lidmaatskap gehad het sittingsreg ontneem sou gewees het soos die ordemosie voorgestel het, sou dr. Boesak sonder twyfel as moderator verkies gewees het. Dr. Boesak en sy ondersteuners het openlik hulle misnoeë oor die verkiesing van ds. Mentor laat blyk en die spanning het hoog geloop.
6.1 Die aard van die verborge agenda het egter eers werklik aan die lig gekom toe daar 'n voorstel ingedien is dat die Sinode moet besluit dat “apartheid” 'n sonde is. Dr. Boesak se strategie wat by die Wêreldbond se sitting geslaag het, is herhaal. Hierdie omstrede beskrywingspunt was nie op die sakelys (skema van werksaamhede) van die vergadering nie. Ondanks ernstige besware deur afgevaardigdes besluit die Sinode tog dat apartheid kettery en 'n sonde is en dat die besluit 'n   status confessionis is, wat beteken dat die besluit nie verander kan word sonder om die integriteit van die kerk prys te gee nie. Dit was 'n herhaling van die besluit wat die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke kort tevore onder leiding van dr. Boesak geneem het. Die meeste afgevaardigdes was klaarblyklik onbewus van die verreikende implikasies van die besluit en dit was eers nadat prof.  Gustav  Bam, 'n dosent in praktiese teologie aan die Universiteit van Wes-Kaap, aan die vergadering verduidelik het dat die vergadering kerkregtelik verplig was om in die lig van die status confessionis 'n belydenisskrif op gelyke grondslag met die ander drie belydenisskrifte op te stel, dat die implikasies van die besluit  tot hulle deurgedring het. Dit het die NG Sendingkerk in  ‘n    drukgang geplaas. “Apartheid” was nou die groot sonde wat alle ander sondes en Bybelse beginsels oorheers het. 
6.2 'n Voorstel dat 'n tydelike kommissie aangestel moet word om so 'n  belydenisskrif op te stel het ook heftige besware van afgevaardigdes uitgelok wat gevra het dat die hele aangeleentheid na 'n       permanente kommissie verwys moet word vir deeglik oorweging en studie. Afgevaardigdes was ook van mening dat daar eers 'n gesprek met die NG Kerk moes plaasvind. Ondanks die besware is besluit om 'n tydelike kommissie aan te stel wat die belydenisskrif moes opstel.
6.3  Die tydelike kommissie het uit  ds. I.J. Mentor, dr. Allan Boesak en proff. Dirkie Smit, Jaap Durand asook Bam, wat in daardie stadium dosente aan die Universiteit van Wes-Kaap was,  bestaan. Die konsepbelydenis wat aan die sinode voorgelê is, is deur prof.  Smit op skrif gestel,  vandaar die wanopvatting dat hy die outeur van die belydenisskrif is. Volgens die meeste bronne het daar tydens die opstel van die belydenisskrif spanning en onmin tussen die afgevaardigdes geheers wat deur sommige afgevaardigdes as openlike venyn, bitterheid, liefdeloosheid en onverdraagsaamheid ervaar is. Aan die einde van die sinodesitting het ds. J.G. Smith, 'n      kleurlingpredikant van Upington, 'n verklaring voorgelees waarin hy onder meer sy teleurstelling en verslaenheid uitgespreek het oor die venyn, bitterheid, liefdeloosheid en onverdraagsaamheid wat tydens die sinodesitting geheers het.
6.4 Vanweë talle besware wat tydens die sinodesitting teen die konsepbelydenis geopper is, is dit bloot as 'n konsepbelydenis aanvaar wat tydens die sinodesitting in 1986 weer oorweeg sou word.  Almal wat egter op een of ander wyse by die besluit en die opstel van die konsepbelydenis betrokke was, was onlosmaaklik daaraan gebonde. Hulle sou voortaan die konsepbelydenis met al hulle mag moes verdedig. Kerkleiers wat by rewolusionêre bedrywighede betrokke was, kon nou 'n kleed van geregtigheid oor die onheilige gevolge van hulle dade trek.
7. Daarna het 'n proses van kondisionering, indoktrinering en oorreding gevolg. Namate die rewolusionêre klimaat ná die stigting van die United Democratic Front (UDF) in 1983 landwye onrus en geweld aangewakker het, het die getal politieke aktiviste wat deur die Veiligheidstak van die SA Polisiemag aangehou is, ook toegeneem. Ondanks die feit dat hulle politieke belhamels was wat sonder uitsondering onrus aangestook het en talle van hulle ook by geweldpleging en gruweldade betrokke was, het dit nogtans hulle gesinne geraak en verset aangewakker. Ook lidmate van die NG Sendingkerk is deur die verset meegesleur. Bloed kruip immers waar dit nie kan loop nie. Tydens die NG Sendingkerk se sinodesitting in 1986 was die afgevaardigdes weens hierdie invloede meer ontvanklik vir die Belydenis van Belhar.  Ondanks verskeie besware wat weer eens teen sekere bepalings in die Belydenis  geopper, is dit uiteindelik onderworpe aan sekere voorbehoude aanvaar.
7.1 Van die besware wat tydens die eerste sinodesitting teen die Belydenis  geopper was, was die volgende:
Die belydenis spruit nie uit 'n teologiese worsteling met die Skrif nie, maar uit 'n politieke en sosiaal maatskaplike stryd van 'n  groep mense.
Die Belhar-belydenis is sterk beïnvloed deur drukgroepe uit die bevrydingsteologie (dit is dus in sonde ontvang en gebore).
Die Belhar-belydenis deel nie die kenmerke van die ware gereformeerde belydenisskrifte nie.
8. Volgens die beskikbare feite het die invloed van dr. Boesak en sy ondersteuners – maar ook die invloed van die SARK – in die geheel 'n sterk rol in die opstel van die belydenis gespeel. Dit loënstraf die aanspraak dat die Belydenis van Belhar die geloofskreet van gelowiges uit 'n tyd van groot krisis en beproewing in die Suider-Afrikaanse samelewing bevat.  
9. Dit sou onteenseglik 'n dwaling wees om die Belydenis van Belhar in isolasie te oorweeg terwyl dit deel gevorm het van 'n intensiewe poging deur geestelike leiers, almal lede van die SARK en ook ondersteuners of meelopers van die ANC/SAKP-alliansie, om die RSA-regering asook die NG Kerk te diskrediteer, te isoleer en landwye politieke verset teen die Regering aan te wakker. Die SARK, met die destydse biskop, tans emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, wyle  dr. Beyers Naudé,  dr. Allan Boesak  en eerwaarde Frank Chikane aan die spits, het 'n reuse rol gespeel om in kerklike kringe legitimiteit aan die rewolusionêre bedrywighede van die ANC/SAKP-alliansie te verleen. Hierdie geestelike leiers het onvermydelik by die rewolusionêre aanslag en die landwye veldtog van terreur en geweld van die ANC/SAKP-alliansie betrokke geraak. Die Belydenis van Belhar was gevolglik nuttig om die rewolusie en die geweld wat dit ontketen het, uit 'n teologiese oogpunt te regverdig.
10. In sy boek Marching to Slavery skryf dr. Sipo E. Mzimela (wat die ANC se verteenwoordiger in New York was en gedurende 1985 sy lidmaatskap beëindig het weens sy beswaar teen die kommuniste wat  al hoe meer 'n leidende rol begin speel het) onder meer soos volg: 
In South Africa, the South African Council of Churches (SACC), Allan Boesak and Desmond Tutu are among the leading religious  representatives of the African National Congress. They, in turn, are worshipped by liberals throughout the world. The SACC is, of course, not a Church, but a political organisation with a deceptive religious title. If the ANC prayed, the SACC would be described as the ANC at prayer. It does not. The purpose of the SACC is to confer religious respectability on the communists so that Western liberals can fund communism in South Africa under the guise of supporting churches.”
11.  Die Veiligheidstak het oor betroubare inligting van informante beskik oor hulp wat onder andere dr. Naudé en dr. Boesak verleen het wat terroriste in staat gestel het om dood en verminking te saai. Die informante kon nie in 'n hof teen hulle  getuig nie, want hulle en hul familielede sou 'n gewisse wrede halssnoerdood sterf. Dr. Naudé is ingevolge die bepalings van die Wet op Binnelandse Veiligheid ingeperk. In 1985 het die regering besluit om die veiligheidsmaatreëls te verslap in 'n poging om die goedgesindheid van politieke aktiviste te probeer wen ondanks die Veiligheidstak se waarskuwing dat dit futiel sal wees. Dr. Naudé se inperking is later heeltemal opgehef. Ek was  toe 'n brigadier, hoof van die Veiligheidstak,  en het dr. Naudé persoonlik in opdrag van die Minister van Polisie, mnr. Louis le Grange, gaan waarsku om hom voortaan van rewolusionêre bedrywighede te weerhou. Dit was 'n uiters onaangename onderhoud. Dr. Naudé was deurentyd openlik vyandig en het duidelik laat blyk dat die regering se versoeningspogings hom koud laat. Ek het die minister ingelig dat dr. Naudé so in die rewolusionêre aanslag verstrengel geraak het  dat daar geen salf aan hom  te smeer is nie. 
12. In sy boek My land van hoop, waarin sy lewensverhaal vertel word, probeer dr. Naudé die geweld van die ANC/SAKP-alliansie en sy betrokkenheid daarby uit 'n Christelike oogpunt regverdig. Hy skryf onder meer:
“In die Suid-Afrikaanse situasie van destyds kon ek insien dat byvoorbeeld jongmense in die swart gemeenskap geglo het dat alle middele tot ʼn vreedsame skikking uitgeput is en daarom kon ek verstaan waarom hulle die wapen opgeneem het, dat hulle die land uitgevlug het, dat hulle elders militêre opleiding ondergaan het. Maar wat myself betref, het ek gesê: Ek is 'n blanke, ek is baie meer bevoorreg as hulle, daar is nog baie wat ek in Suid-Afrika kan doen sonder om die wapen op te neem. Daarom kon ek nooit sover kom om te sê ek gaan help bomme maak, ek gaan help om wapens te voorsien nie. Daartoe kon ek my nooit bring nie.
Ek erken ek het jongmense gehelp om uit die land te vlug. Ek het gehelp om die ANC se literatuur te versprei, sodat mense moes weet waarom gaan dit vir die ANC, veral die Vryheidsmanifes van die ANC.”
Dr. Naudé bedoel waarskynlik “lektuur”, want die ANC het in sy ganse bestaan nog nooit enige literatuur uitgegee nie. Sy uiteensetting is 'n sprekende voorbeeld van hoe selektief morele beginsels toegepas is. Dit was nie vir hom nodig om self bomme te maak nie. Die jongmense wat hy gehelp het om uit die land te vlug was swart mans wat deur Umkhonto we Sizwe, die militêre vleuel van die ANC,  vir militêre opleiding in die Sowjetunie en ander lande gewerf is. Hulle sou ná hul opleiding Suid-Afrika met wapens binnesypel om dood en verwoesting te saai. Dit is moeilik om te glo dat dr. Naudé en ander geestelike leiers nie besef het dat die jong swartes wat hulle gehelp het om vir militêre opleiding te gaan, sou terugkeer om terreurdade te pleeg nie. Terreurdade soos  die Kerkstraatbom, waarin 12 burgerlikes dood en 217 wreed vermink is, landmyne op plaaspaaie, kleefmyne en ander ploftoestelle in restourante en openbare plekke  waar burgerlikes, onder wie weerlose vrouens en kinders, dood en vermink is.
Dr. Naudé meld dat hy toegang tot die verbode lektuur van die ANC/SAKP-alliansie gehad en dit help versprei het. Vanselfsprekend was dit ook die geval met ander kerklike leiers van die SARK. Sechaba, mondstuk van die ANC, het in elke uitgawe oor die “heldedade” van Umkhonto we Sizwe berig. Hierdie “heldedade” was sonder uitsondering terreurdade. 'n Mens moet dus aanvaar dat onder andere dr. Boesak en dr. Naudé volledig kennis gedra  het van die gruweldade van die ANC/SAKP-alliansie, maar desondanks voortgegaan het om hulle rewolusionêre bedrywighede daadwerklik te bevorder. Hulle het dit  waarskynlik probeer regverdig met die standpunt dat apartheid boos is en dat die doel die middele heilig. Ironies genoeg het dit niks bygedra tot die bevryding van swartmense nie, maar die proses eerder vertraag.
Daar is weinig twyfel dat die geld wat dr. Naudé  en ander geestelike leiers gebruik het om swart jeugdiges te help om die land onwettig te verlaat, deur welmenende  persone en instansies vir welsyndoeleindes geskenk was. Dit is ook glashelder  dat dr. Naudé en ander SARK-leiers  deel van Umkhonto we Sizwe se netwerk gevorm het, want hoe sou die “jongmense” anders geweet het om daar hulp te gaan soek.
Die ANC-“literatuur” wat dr. Naudé en waarskynlik ook ander kerkleiers  met SARK-bande versprei het, was daarop gemik om die rewolusionêre doeleindes van die ANC/SAKP-alliansie te bevorder. Dit was 'n ernstige misdryf ingevolge die Wet op Bestryding van Terrorisme om enige lektuur wat rewolusionêre bedrywighede bevorder het, te versprei. Derhalwe moes dr. Naudé en die ander kerkleiers dit in die geheim versprei het en sou hulle noodwendig van die ondergrondse strukture van die ANC/SAKP-alliansie gebruik moes gemaak het.
Die Vryheidsmanifes van die ANC wat dr. Naudé so hoog aanslaan en help versprei het, het 'n     sterk sosialistiese grondslag, maak voorsiening vir die nasionalisering van myne en grond en gee geen erkenning aan die Drie-enige God nie.
Wikipedia  verstrek volledige besonderhede oor die rol wat dr. Naudé in die geledere van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke gespeel het en daarvolgens is dit duidelik dat hy oor buitengewone invloed beskik het. Die volgende inligting word ook verstrek: “... Although under constant police surveillance, Naudé managed to secretly help anti-apartheid resistors move around and out of South Africa by providing them with old vehicles that he had repaired himself. He later joked that this was ‘My small contribution to a struggle I knew was right.’  His ANC liaison was Sydney Mufamadi who became Minister of Provincial and Local Government in the post-apartheid government.”
13. Dit is onwaar dat die Veiligheidstak dr. Naudé voltyds dopgehou het. Die Veiligheidstak se vermoë was te beperk om al die verdagte persone voltyds dop te hou. Ons het informante gebruik  en was terdeë bewus van dr. Naudé se bedrywighede. Die sogenaamde “anti-apartheid resistors” was lede van Umkhonto we Sizwe wat met dr. Naudé se ou voertuie kleefmyne, ploftoestelle, handgranate en AK-gewere landwyd versprei het vir terreurdade. Ons wou egter nie die lewe van die informante op die spel plaas deur hulle in die hof teen dr. Naudé te laat getuig nie. Sodoende het hy en ander kerkleiers wat hulle in kerklike gewaad aan oortredings van die Wet op die Bestryding van Terrrorisme skuldig gemaak het, skotvry daarvan gekom.
Pres. Jacob Zuma bestempel dr. Naudé as “... a pioneer of non-racialism and one of the stalwarts of our struggle for liberation both here and abroad …”
14. In 1985 het The Star  die owerspelige verhouding van dr. Boesak en mej. Dianne Melanie Scott, 'n      werknemer van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, onthul. Volgens inligting wat daarna op die lappe gekom het, het dr. Boesak en mej. Scott by verskeie geleenthede in verskillende hotelle owerspel gepleeg. 
14.1 Die Veiligheidstak het deur middel van verskeie betroubare bronne inligting bekom dat dr. Boesak geld wat vir welsynsdoeleindes aan die SARK  geskenk is, vir rewolusionêre doeleindes aangewend het maar dit ook vir eie gewin misbruik het. Ondanks die feit dat wetgewing alle skenkings aan rewolusionêre organisasies verbied het en die Veiligheidstak alle moontlike stappe  gedoen het om te voorkom dat rewolusionêre organisasies fondse uit die buiteland ontvang, het hulle oor ruim fondse beskik wat volgens informante deur die SARK na hulle gevloei het. Dit was uiters moeilik om vanweë druk uit die buiteland teen enige kerklike instansie of kerkleier op te tree. Leiers van die SARK het by verskeie geleenthede in die openbaar heftig ontken dat hulle by rewolusionêre bedrywighede betrokke was.
14.2  Ek het dr. Boesak in 1986 in hegtenis geneem en ingevolge artikel 29 van die Wet op Binnelandse Veiligheid aangehou. In daardie stadium het die plaaslike en internasionale media in 'n     felle aanslag die Veiligheidstak daarvan beskuldig  dat hy 'n heksejag teen lede van die SARK voer. Die beskikbare getuienis was onvoldoende om 'n gewisse skuldigbevinding te verseker. Ons moes dr. Boesak vrylaat.
14.3 In 1990 is weens sy owerspelige verhoudings druk op dr. Boesak uitgeoefen om as leraar van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk te bedank. 
14.4. Daarna is dr. Boesak weens verskeie aanklagte van bedrog vervolg. Hy is aan vier aanklagte van bedrog skuldig bevind, wat ingesluit het dat hy R762 000 van die Swedish International Development Agency  (Sida) gesteel  het. Die geld was vir kiesersopleiding bedoel. Hy het ook meer as R300 000 van die Stigting vir Vrede en Geregtigheid (SVG) gesteel om vir hom 'n huis in Vredehoek en 'n     herehuis in Constantia te koop en om sy vrou se skuld te delg.  Dr. Boesak is in Maart 1999 tot 6 jaar gevangenisstraf gevonnis weens hierdie misdrywe. 
14.5  Nadat hy twee jaar van sy vonnis uitgedien het, is dr. Boesak op parool vrygelaat. Hy het daarna om presidensiële kwytskelding aansoek gedoen op grond daarvan dat die geld wat hy gesteel het in belang van die rewolusionêre stryd van die ANC aangewend is. Mnr. Thabo Mbeki, wat toe president was, het die kwytskelding toegestaan. Volgens getuienis wat in dr. Boesak se verhoor deur die hof aanvaar is, het hy egter die meeste van die gesteelde geld vir persoonlike doeleindes gebruik.
15. Dit is opvallend dat pogings om die Belydenis van Belhar tot stand te bring, in 1982 begin het in dieselfde tydperk toe beplanning gedoen is om 'n organisasie op die been te bring wat die massas teen die Regering kon mobiliseer. In 1983 is die United Democratic Front (UDF) gestig waarin dr. Boesak, dr. Naudé en ander geestelike leiers 'n leidende rol gespeel het. Die oogmerk van die UDF was om die massas te mobiliseer om grootskaalse burgerlike ongehoorsaamheid en verset aan te wakker om die Regering tot 'n val te bring. Ofskoon die UDF die ANC gesteun het en dieselfde oogmerk as die ANC nagestreef het,  het dit nie onder beheer van die ANC gestaan nie. Die bedrywighede van die UDF het landwye onrus en geweld tot gevolg gehad. Dit is as ‘n verbode organisasie verklaar.  
16. In 1985 het die omvang van die landwye onrus en geweld die Regering verplig om op 20 Julie 1985 'n Noodtoestand in sekere gebiede te verklaar. Noodregulasies is uitgevaardig. Die Veiligheidstak het duisende politieke aktiviste wat die onrus en geweld aangestook het, ingevolge die Noodregulasies aangehou. Na ‘n paar maande het die onrus en geweld bedaar en die politieke aktiviste is vrygelaat. Onrus en geweld het opnuut opgevlam en op 12 Julie 1986 is weer ‘n landwye  Noodtoestand afgekondig, wat tot 1989 geduur het.
17. Ofskoon vir geen oomblik beweer word dat die SARK en betrokke geestelike leiers geweld aangemoedig het nie, het hul pogings om die massas tot verset te mobiliseer, die aanhitsing van burgerlike ongehoorsaamheid en die misbruik van fondse om mense vir militêre opleiding te stuur,  'n vrugbare teelaarde vir geweld en doodslag gevorm. Rewolusie het vele fasette. Die opsweping van die massas het noodwendig emosies ontketen wat in geweld neerslag gevind het. Daar moet in gedagte gehou word dat Suid-Afrika gedurende die betrokke tydperk in 'n bloedige terreurstryd gewikkel was. Terreurvoorvalle het  bykans daagliks voorgekom. Weerlose vrouens en kinders het gesterf. Op 20 Mei 1983 het 'n motor met 'n kragtige lading springstof gedurende spitstyd in Kerkstraat, Pretoria, ontplof. Twaalf burgerlikes sterf in die ontploffing en 217 is ernstig beseer en vermink. Die polisie moes liggaamsdele wat wyd versprei gelê het in plastieksakke bymekaarmaak. Op 23 Desember 1985, twee dae voor Kersfees, ontplof 'n toestel in ‘n    vullishouer in die Sanlamsentrum in Amanzimtoti. Vyf burgerlikes sterf grusaam en 40 is ernstig beseer. Swart lede van die Polisie, asook raadslede in swart woonbuurte, is vermoor en hul huise afgebrand. Enigeen wat daarvan verdink is dat hy of sy met die polisie saamwerk, is lewend met die “halssnoermetode” verbrand. Van 1980 tot 1990 is 270 lede van die Polisie vermoor. In dieselfde tydperk is 539 mense met die “halssnoermetode” lewend verbrand. Altesame 696 is lewend verbrand deur brandstof op hulle uit te giet en hulle aan die brand te steek. Met motorbomme, landmyne, kleefmyne  en ander plofstelle het Umkhonto we Sizwe op groot skaal dood en verminking gesaai.  Terwyl die Polisie dag en nag in uiters haglike omstandighede gewerk het in 'n    desperate poging om die gemeenskap teen die terreur, geweld en doodslag te beskerm, het dr.  Beyers Naudé en ander geestelike leiers mense gehelp om onwettig vir buitelandse militêre opleiding te gaan. Hulle het teruggekeer om die bose kringloop van geweld te voed. Burgerlike ongehoorsaamheid is landwyd deur die UDF met dr. Boesak en ander kerkleiers van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke aan die spits, aangehits. Dit het tot massabetogings en geweld gelei.
17.1 Midde-in die geweld en doodslag onderteken 156 kerkleiers op 21 September 1985 'n dokument met die opskrif “Kairos” (wat beteken ‘n    oomblik van waarheid). Onder die kerkleiers wat die dokument onderteken is eerwaarde Frank Chikane, dr. Beyers Naudé en dr. G.D. Cloete. Dr. Cloete was aan die Universiteit van Wes-Kaap verbonde en het die boekie “ 'n Oomblik van Waarheid” waarin prof. Dirkie Smit toeligting oor die Belydenis van Belhar gee, geredigeer en self ook ‘n hoofstuk daarin geskryf. Die Kairos-dokument gaan van die standpunt uit dat die opdrag in Rom. 13.1 wat lui: “Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God” teen die agtergrond van die omstandighede waarin Paulus dit  geskryf het, verstaan moet word. Volgens die Kairos-dokument verhinder niks 'n Christen om hom of haar teen 'n goddelose regering te verset trouens daar word volgens hierdie dokument van 'n Christen verwag om hom of haar te verset. Volgens wetenskaplike navorsing het Paulus Romeine 13 verse 1 tot 7 gedurende die bewind van keiser Nero geskryf. Nero is berug vir die onmenslike wreedhede wat hy gepleeg het, die wanpraktyke wat geheers het en buitensporige belastings wat gehef is. Volgens die Verklarende Bybel en ander verklarings oor Romeine 13.1 – 7 het Paulus verwag dat Christene selfs in hierdie omstandighede hulle aan die owerheid moet onderwerp en hulle in alle opsigte ordelik en korrek moet gedra. Die ondertekenaars van die Kairos-dokument beroep hulle op Openbaring  13 waar dit gaan oor die dier wat uit die see opkom en die mag, heerskappy en gesag van die Satan uitoefen. Die Nasionale Party-regering word dan met die “dier” gelykgestel wat deur Christene beveg en vernietig moet word. Dit is weer eens glashelder dat hierdie verwronge uitleg doelbewus daarop gemik is om die rewolusionêre doelwitte van die ANC/SAKP-alliansie te bevorder en die terreurdade wat in die loop daarvan gepleeg is te regverdig. Die inhoud van die Belydenis van Belhar hang baie duidelik nou saam met die sienswyse wat in die Kairos-dokument uiteengesit word.
Onder meer word die volgende standpunt in laasgenoemde dokument gestel :
The State in its oppression of the people makes use again and again of the name of God. Military chaplains use it to encourage the South African Defence Force, police chaplains use it to strengthen policemen and cabinet ministers use it in their propaganda speeches. But perhaps the most revealing of all is the blasphemous use of Gods holy name in the preamble to the new apartheid constitution.”
17.2 Geen woord word oor die terreur- en ander gruweldade wat deur lede van die ANC/SAKP-alliansie en ander rewolsuionêre organisasies gepleeg word, gerep nie. Dit verduidelik ook waarom daar tydens die NG Sendingkerk se sinodesittings van 1982 en 1986 geen veroordeling van die grusame terreurvoorvalle was nie en dat daar volgens al die bronne geen enkele woord van kritiek daarop gelewer is nie.
18. Internasionale druk en die felle veldtog deur sekere media teen die Veiligheidstak het hom grootliks aan bande gelê om die rewolusionêre bedrywighede van die SARK te ontmasker. Uit verskeie bronne is inligting ontvang van geld wat vir welsynsdoeleindes bewillig was, maar vir rewolusionêre bedrywighede aangewend is. Die SARK het egter heftig ontken dat die Raad enigsins by sodanige bedrywighede betrokke was. Nadat die ANC op 27 April 1994 aan die bewind gekom het, het verskeie geestelike leiers, soos dr. Allan Boesak, dr. Beyers  Naudé en eerwaarde Frank Chikane, nie slegs openlik erken dat hulle by rewolusionêre bedrywighede betrokke was nie, maar hulle inderdaad daarop geroem.
19. Propaganda, leuens en misleiding het apartheid as die toppunt van boosheid gebrandmerk; veel erger wandade wat gedurende die rewolusionêre stryd gepleeg is, is verdoesel of verdwerg.
20. Die SARK het nooit 'n geheim van sy vyandige gevoelens jeens die SA Polisie en die Weermag gemaak nie. In navolging van die beleid van die ANC/SAKP-alliansie het die Raad botweg geweier dat enige leraar van kerke wat deel van die SARK vorm, as kapelane diens mag doen. Volgens die beleid van die ANC/SAKP is alle lede van die Polisie en die Weermag, asook hul gesinne, as harde teikens beskou wat uitgewis moet word.
21. Onweerlegbare getuienis bestaan dat sekere geestelike leiers wat by die totstandkoming van die Belydenis van Belhar betrokke was, of die opstel daarvan beïnvloed het, onderskeidelik in die openbaar leuens vertel het, bedrieg, mislei, owerspel gepleeg het, geld vir welsynsdoeleindes vir rewolusionêre doeleindes aangewend het of vir persoonlike gebruik gesteel het, en daadwerklik by die bevordering van die rewolusionêre aanslag betrokke was.  Ek beweer nie dat die blote betrokkenheid van hierdie mense by die opstel van die Belydenis van Belhar die Belydenis onaanvaarbaar maak nie. Ons sondig almal en nie een kan die eerste klip gooi nie. Die motiewe en gesindhede en die invloed wat hierdie mense gevolglik op die opstel van die Belydenis van Belhar uitgeoefen het, is egter wel wesenlik van belang. Dit bevestig ook dat niemand skuldloos uit die verlede getree het nie. Niemand kan derhalwe daarop aanspraak maak dat hulle die enigste veronregtes is nie. Almal wat by die stryd van die verlede betrokke was, is wedersyds op 'n gelyke grondslag vergiffenis aan mekaar verskuldig.
22. Hoewel die Belydenis van Belhar eers in 1986 formeel deur die Sinode van die NG Sendingkerk aanvaar is, is dit reeds sedert 1982 as politieke werktuig ingespan om verset teen die regering aan te blaas. Saam met die Kairos-dokument en 'n dokument met die titel “ The Road to Damascus” (1989) wat onder meer deur proff.  Durand, D.J. Smit, Russel Botman asook dr. Beyers Naude, dr. Allan Boesak saam met 429 kerklikes onderteken is,  het dit 'n gedugte trilogie gevorm om die geweld en terreur asook kerkleiers se betrokkenheid daarby te regverdig. “The Road to Damascus” het 'n sterk Marxistiese grondslag.
Dat al drie hierdie dokumente geformuleer en ingespan is in die geestelikes se stryd teen die vorige regering, blyk baie duidelik uit die verklaring van die Instituut vir Kontekstuele Teologie wat gedurende die  Rustenburg-beraad in 1992 uitgereik is. Daarin verklaar hulle: “We thank God  that the prophetic voice, though vilified, condemned and discredited by other Christians,  stayed alive through the dark period of division of Christian witnesses, and manifested through individual sacrifices; through documents like The Kairos Document, The Belhar Confession, The Road to Damascus, Evangelical Witness, and Relevant Pentecostal Witness.”
Die wyse waarop die Belydenis van Belhar opgestel is, het dit moontlik gemaak om dit op so 'n     wyse te gebruik, dat dit verset teen die vorige staatkundige bedeling aangewakker het. Insgelyks is die terreur- en ander gewelddade van die ANC/SAKP-alliansie, asook kerkleiers se betrokkenheid daarby, sodoende geregverdig. Godsdiens is deur die eeue aangewend om geloofwaardigheid aan verset en geweld te verleen. Kerkleiers wat die rewolusie in Suid-Afrika gesteun het, was geen uitsondering nie.
23. As ek as 'n gewone lidmaat teen die agtergrond van die geskiedenis wat ek geskets het, na die inhoud van die Belydenis van Belhar kyk, tref dit my dat sekere aanhalings uit die Bybel baie selektief gekies is om 'n bepaalde boodskap oor te dra om  by die rewolusionêre boodskap van die ANC/SAKP-alliansie te pas.
Artikels 1 tot 3  van die Belydenis  op sekere Bybelse beginsels gegrond en as sodanig heeltemal suiwer. Dit is vanselfsprekend dat wanneer 'n mens jou geloof aan die hand van bepaalde Bybelse beginsels bely jy dít wat daarmee bots verwerp. Daarom is dit opvallend dat die volgende aanhaling in artikel 2 verskyn:
Daarom verwerp ons enige leer wat óf die natuurlike verskeidenheid óf die sondige geskeidenheid so verabsoluteer dat hierdie verabsolutering die sigbare en werksame eenheid van die kerk belemmer of verbreek of selfs lei tot 'n aparte kerkformasie;
wat voorgee dat hierdie geestelike eenheid werklik bewaar word deur die band van die vrede wanneer gelowiges met dieselfde belydenis van mekaar vervreem word ter wille van die verskeidenheid en vanweë die onversoendheid;
wat ontken dat 'n weiering om hierdie sigbare eenheid as 'n kosbare gawe na te jaag sonde is;
wat uitgesproke of onuitgesproke voorgee dat afkoms of enige ander menslike of sosiale faktore medebepalend is vir lidmaatskap van die kerk”
23.2.’n Mens sou verwag dat indien dit die uitgangspunt van die geloofsbelydenis is om enige teëstellings te verwerp, artikel 1 eerstens nadruklik alle ander leerstellings wat daarmee bots, soos onder ander die Moslem- en Hindoegelowe, sou verwerp.
23.3 Nog meer opvallend is die volgende aanhaling in artikel 3: “Daarom verwerp ons enige leer wat in die naam van die evangelie of die wil van God die gedwonge skeiding van mense op grond van ras en kleur in so 'n  situasie sanksioneer en daardeur die bediening en belewing van die versoening in Christus by voorbaat belemmer en van krag beroof.”
Artikel 3 se inleiding lui soos volg: “Ons glo dat God aan sy kerk die boodskap van versoening in en deur Jesus Christus toevertrou het; dat die kerk geroep is om die sout van die aarde en die lig van die wêreld te wees ...”
'n  Mens  sou in hierdie geval  verwag dat die klem eerstens sou val op alle leerstellings wat Jesus Christus verwerp.
Ondanks die eufemistiese verduidelikings dat hierdie verwerpings nie op apartheid slaan nie, is daar weinig twyfel dat dit nou verweef is met die konflik en verdeeldheid van die verlede en derhalwe nie deel van 'n geloofsbelydenis behoort te wees nie.
23.4 Artikel 4 lui onder meer  soos volg:
dat Hy in 'n wêreld vol onreg en vyandskap op 'n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien; dat Hy die wat bedruk is ondersteun, die vreemdelinge beskerm.”
23.4.1 Hierdie aanhaling is onder meer op Jes. 42:7 en Jes. 60 gebaseer. Israel het tydens die skryf van hierdie gedeeltes in Babiloniese ballingskap verkeer en die boodskap is baie duidelik vir die ballinge wat in gevangenskap verkeer bedoel. Vir die gewone lidmaat is dit moeilik om te begryp wat die betekenis van die woorde “Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien” in geloofsverband in die hedendaagse omstandighede beteken. Leraars self lê dit op verskillende maniere uit. Die letterlike betekenis daarvan is vir die gelowige niksseggend.
Dit is opvallend dat die Belydenis van Belhar tydens die Algemene Sinode van die NG Sendingkerk gedurende 1986 aanvaar is onderworpe daaraan dat die woorde “die noodlydende, die arme en die veronregte” nie so verstaan mag word dat dit slegs op 'n bepaalde bevolkingsgroep of groepe betrekking het nie.
Daar bestaan weinig twyfel dat die woorde “Hy die gevangenes bevry” 'n besondere betekenis verkry het toe die Veiligheidstak groot getalle politieke aanstokers moes aanhou. Dit het dié wat die rewolusionêre aanslag gesteun het goed te pas gekom. Dit is alom bekend dat 'n klakkelose herhaling van woorde 'n persepsie skep wat sterker as alle feite is.
23.5  Artikel 4  bepaal ook die volgende:
dat die kerk as eiendom van God moet staan waar Hy staan, naamlik teen die ongeregtigheid en by die veronregtes; dat die kerk as volgelinge van Christus moet getuig teenoor alle magtiges en bevoorregtes wat uit selfsug hulle eie belang soek en oor andere beskik en hulle benadeel.”
Wat  onmiddellik opval, is dat hierdie artikel op aanhalings uit die Ou Testament steun en die klem op die negatiewe laat val.  Dit skep verset teen die “magtiges en bevoorregtes”, waaronder die owerheid, gesagsliggame en wie ook al volgens die artikel as “magtiges” en “bevoorregtes” beskou kan word.
'n Mens sou verwag dat Jesus die hoeksteen van enige geloofsbelydenis sal vorm en dat die Nuwe Testament die vertrekpunt sou wees. 
Dit wil voorkom asof die uitgangspunte wat in die Kairos-dokument gestel is, indien dit in samehang met die dokument “The Road to Damascus”  en die Belydenis van Belhar gelees word, 'n streep deur  volgende opdragte in die Nuwe Testament trek:
 1 Tim. 2:1-4
“Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen ...”
 Rom. 13 vers 1 “Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.” 
 Matt. 5: 43-45 
“Julle het gehoor dat daar gesê is: Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel ...”
 Luk. 6:27-36  dat jy jou vyand moet liefhê en vir hom moet bid.
Rom. 12:17-21, wat handel oor vergelding en weer eens die klem daarop plaas dat jy jou vyand moet liefhê.
23.6 Voor 1994 het sekere kerkleiers die regering gedurig  heftig gekritiseer  en die SA Polisie het onder skerp kritiek deurgeloop wanneer 'n politieke aktivis in aanhouding gesterf het. Ná 1994 swyg dieselfde kerkleiers soos die graf oor die ongeregtighede van die ANC-regering. Volgens statistiek wat deur die Onafhanklike Klagtedirektoraat van die SA Polisiediens uitgereik is, het daar in 2004/2005 altesame 625 mense op onnatuurlike wyse in polisie-aanhouding gesterf, vermoedelik weens wederregtelike polisie-optrede. Vir 2005/2006 is die getal 621. In 1992 is daar groot ophef gemaak toe dr. Jonathan Gluckman, 'n bekende patoloog van Johannesburg, in 'n persverklaring  beweer het dat 130 persone gedurende die tydperk 1986 tot 1991 weens onnatuurlike oorsake in polisie-aanhouding gesterf het. Ondanks die skokkende toename in onnatuurlike sterftes in aanhouding na 1994 het nog nie een kerkleier sy/haar kommer daaroor uitgespreek nie.
23.7. In die lig van die voorafgaande paragrawe ontstaan die vraag of Christene self mag besluit of ‘n   regering goddeloos is en op grond daarvan hulle mag verset, indien nodig met geweld, of moet kerkleiers daaroor besluit? Kan die Mugabe-regering as 'n goddelose regering bestempel word en Christene aangemoedig word om hulle te verset, indien nodig met geweld? Is die huidige regering in Suid-Afrika  aan die hand van al die ongeregtighede waaraan die regering hom volgens berigte wat daagliks in die media verskyn, skuldig maak, 'n goddelose regering waarteen die kerk moet getuig?
'n Geloofsbelydenis is die grondslag van die wese van jou  geloof en moet onbevlek wees van menslike vooroordele en eise. Soos ek dit verstaan, is 'n geloofsbelydenis 'n belydenis van die God waarin ek glo. Christene bely die Drie-enige God  soos ons dit vind in die belydenisse van Nicea, Athanasius en die Apostoliese geloofsbelydenis. Moslems bely Allah en sy profeet Mohammed. Hindoes bely 'n panteon van gode en glo dat daar 'n god vir elke geleentheid is. Belydenisvorming gaan oor die formulering van kernwaarhede van die Bybel. 
24.1 Die Belydenis van Belhar is grootliks 'n voorskrif van hoe die Christelike geloof daar moet uitsien.  Amper soos 'n bloudruk van hoe die kerk (Liggaam van God op aarde) daar moet uitsien.  Pleks daarvan om Christene te verenig in 'n belydenis wat vry is van menslike oorwegings en suiwer op die Drie-enige God gerig is, word die kerk gedwing om daagliks “ongeregtighede” uit te snuffel, “veronregtes” uit te wys en  te “getuig teenoor alle magtiges en bevoorregtes wat uit selfsug hulle eie belang soek en oor andere beskik en hulle benadeel”. “Ongeregtigheid” het 'n wye betekenis wat wissel  van enige sondige daad tot alle wederregtelike handelinge. Mense het verskillende opvattings oor watter dade 'n ongeregtigheid uitmaak. 'n Eenvoudige voorbeeld is homoseksuele dade wat voorheen deur wetgewing verbied is en tans weer gewettig is. Hoe enige kerk die daad by die woord gaan voeg sonder om telkens in omstredenheid en geskille met die owerheid en lidmate  te beland, is moeilik om in te sien. 
24.2 Artikels 4 en 5 van die Belydenis kan hoogstens deel van die leer en aktuele sake van die kerk word, mits dit saam met die verbandhoudende skrifgedeeltes in perspektief ingeklee word
Pleitbesorgers vir die Belydenis van Belhar probeer dr. Boesak op die agtergrond plaas en beroep hulle op die integriteit van proff. Dirkie Smit en Jaap Durand. Dit op sigself behoort 'n rooi lig te laat flikker. Dit was nog nooit vir die NG Kerk nodig om die ander drie Belydenisskrifte aan die hand van 'n mens se integriteit te verdedig nie.
Oud-lede van die SA Polisiemag en die Weermag wat die gemeenskap tydens die rewolusionêre aanslag teen terreur- en ander gewelddade moes beskerm, is deeglik bewus van die dubbele rol wat sekere kerkleiers tydens die stryd, asook die opstel van die Belydenis van Belhar,  gespeel het. Die Belydenis, en die manier waarop dit in die verlede en vandag nog toegepas word, is sprekend van hierdie kerkleiers se dubbele standaarde. Dié oud-lede sal dus nooit die Belydenis van Belhar uit innerlike oortuiging en opreg kan bely nie.
Ironies genoeg word daar dikwels uit kerkkringe 'n beroep op lidmate van die NG Kerk gedoen om die verlede te vergeet en die Belydenis van Belhar te aanvaar, terwyl die Verenigde Gereformeerde Kerk, met hoofsaaklik bruin lidmate, op grond van die verlede die aanvaarding van die Belydenis van Belhar as ultimatum vir kerkhereniging stel. 'n Mens wonder van hoeveel belang die Belydenis vir die meerderheid lidmate van die VGK is en hoeveel die ultimatum steun. Vir die gewone lidmaat wat nie volledig vertroud is met die voorgaande nie, is dit moeilik om te begryp waarom die NG Kerk en die VG Kerk nie gesamentlik ‘n geloofsbelydenis kan formuleer gegrond op al die Bybelse grondbeginsels soos vervat in die Belydenis van Belhar nie, maar gesuiwer van omstrede stellings wat duidelik met die konflik en verdeeldheid van die verlede verband hou.
'n Mens wonder watter uitweg die Moderamen vir die lidmaat gaan bied wat gewetensbeswaar teen die Belydenis van Belhar in sy huidige vorm het. Hoe kan so 'n lidmaat 'n erediens bywoon sonder dat die Belydenis aan hom/haar opgedwing word? Hoe kan die NG Kerk steeds 'n geestelike tuiste vir so 'n lidmaat wees? 
Nog 'n vraag van wesenlike belang is watter inligting oor die Belydenis van Belhar deel van die leerstellings van die NG Kerk gaan vorm. Geskiedenisboeke wat vandag vir skole voorgeskryf word, is deurspek van propaganda, leuens, verdraaiings en 'n eensydige weergawe van die stryd van die verlede. Hoe gaan die Moderamen voorkom dat dit nie ook met die Belydenis van Belhar gaan gebeur nie?
BRONNE:
Allan Boesak, inskrywing in Encyclopaedia Britannica. Aanlyn-weergawe, www.britannica.com, geraadpleeg op 8 Desember 2009
Biography: Allan Aubrey Boesak. Aanlyn-weergawe, www.answers.com, geraadpleeg op 8 Desember 2009.
Allan Boesak resigns from the church– South African History on line, – Aanlyn-weergawe geraadpleeg  op 12 Augustus 1990
The Kairos Document - South African History Online - http://www.sahistory.org.za/article/kairos-document-1985-0 - Aanlyn-weergawe geraadpleeg op 13 Januarie 2012  
Belhar en die NG-Familie : Die Debat Geweeg – prof. Piet StraussCached
 Trou tot die Dood Toe – Die Suid-Afrikaanse Polisiemag -  Johan van der Merwe
My land van Hoop – dr. Beyers Naudé
The Other Side of the Story – H D Stadler
Publish and be Damned -  Chris Steyn-Barlow
Marching to Slavery – Dr. Sipo E Mzimela
Die Belydenis van Belhar.  Waarom Gaan dit – dr. Hennie Conradie
 Belhar, bely of bestry -  ds Theo Danzfuss   
The Road to Rustenburg - Dr Louw Alberts & Rev dr Frank Chikane p 267)
 ‘n    Blik op Eenheid, Versoening en Geregtigheid 1986 en 2011 – Lesing gelewer aan die Universiteit van die Vrystaat op 31 Oktober 2011 deur professor Dirkie Smit
Submission to the Truth and Reconciliation Commission by General Johan van der Merwe – 21 October 1996.

No comments:

Post a Comment