Wednesday 20 March 2013

’n Myn in Pretoria?

Sien ook ons vorige plasing hieroor met verskeie skakels:
Doornpoort Pretoria's new Mining town?

’n Myn in Pta?
Deur Fanie van Rooyen
Beeld 2013-03-20

Inwoners van ’n Pretoriase woonbuurt is erg omgekrap oor die moontlikheid dat ’n platinummyn langs hulle opgerig kan word.

Die moontlikheid bestaan dat daar reg langs die N4 Bakwena-hoofweg, wat teenaan die noordelike woonbuurt Doornpoort verbyloop, gemyn kan word.

Die maatskappy Sable Platinum het reeds met prospektering na platinum op die plaas Doornpoort 295JR begin. Dit word die Roan-projek genoem.

Die plaas is ook binne 5 km van die noordelike buurte Montana, Sinoville en Annlin geleë.


Sable het ook reeds ’n aansoek om prospekteerregte vir vanadium en ystererts ingedien.

Debbi Scheun, voorsitter van die Doornpoort-inwonersvereniging, het gesê inwoners is baie bekommerd en voel om die bos gelei omdat hulle nie vooraf behoorlik ingelig is nie.

“Prospektering reg oorkant woonbuurte wat al 27 jaar lank bestaan, is beslis ’n groot bekommernis vir almal wat daar woon,” het Scheun gesê.

Sy het ’n petisie opgestel om die prospektering stop te sit.

Sy het gesê mynkonsultante en bestuurslede van Sable het onlangs vir die eerste keer met verteenwoordigers van geraakte gemeenskappe vergader, maar dit het op ’n stryery uitgeloop.

“Ons was onder die indruk dat hulle nog wag vir die regte om vir platinum te prospekteer en wou met hulle daaroor praat, maar toe vind ons op die vergadering uit hulle het lankal met prospektering begin en dat hulle aansoek gedoen het om vir vanadium en ystererts ook te prospekteer.”

Sy het gesê inwoners is bekommerd oor lug- en klankbesoedeling en dat ’n myn die waarde van wooneiendomme drasties sal laat afneem.

Hannes Coetzee, DA-raadslid vir wyk 96, het gesê die hele gemeenskap is hierteen gekant. “Hulle het begin boor nog voordat hulle prospekteerregte bekom het en die grond is geensins vir mynbou hersoneer nie, soos die stadsraad vereis.

“Sable moes lankal met die gemeenskap vergader het aangesien die gasse en stowwe wat met mynbou geassosieer word ’n groot uitwerking op inwoners sal hê en die gebied se water ook geraak sal word.”

James Allan, uitvoerende hoof van Sable, het bevestig dat prospektering in Maart verlede jaar begin het nadat ’n ooreenkoms met die eienaar van die plaas gesluit is, maar gesê dat prospektering geen uitwerking op omliggende gemeenskappe het nie.

Sable het volgens hom in Junie verlede jaar aansoek gedoen om prospekteerregte vir vana­dium en ystererts en die Tshwane-metroraad op 10 Januarie vanjaar van die aansoek in kennis gestel en ’n vergadering met gemeenskapslede vir 6 Maart gereël. Die volgende vergadering is op 8 Mei.

“Die aansoeke is slegs vir prospektering en geen aansoek is nog vir mynbedrywighede ingedien nie.”

Klik op die foto vir 'n vergrote weergawe
Bron: http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/n-Myn-in-Pta-20130320

No comments:

Post a Comment