Monday, 21 May 2012
Boetman is die bliksem in
Chris Louw
Geagte dr. De Klerk
Aanvanklik het ek gewonder waarom ek u boekie Afrikaners: kroes, kras, kordaat met soveel weerstand gelees het. Nie heeltemal weersin nie, let wel: net weerstand.
My geslag is mos grootgemaak om ons emosies te beteuel, om ons nie oor te gee aan enige werklike vorm van koestering nie nie liefde nie, en ook nie haat nie.
Ons is geleer om gesien en nie gehoor te word nie, om opdragte uit te voer sonder teëspraak, om respek vir die oueres te toon. Om, op die keper, bereid te wees om ons lewe op te offer vir ons land en vir die Groter Saak. Ek praat nou van wit Afrikanermans van so tussen dertig en vyftig dié ouens wat met verpligte diensplig gebrandmerk is.
Laat ek dit maar so diplomaties moontlik sê: u boekie ruik na oneerlikheid. Die oneerlikheid van selfregverdiging.
U boek is nie in die eerste plek geskryf vir u kinders, ``hulle wat 'n nuwe loot uit die Afrikanerwortels sal moet uitstoot'', nie.
U boek is geskryf vir 'n bejaarde man, so iets in die sewentig, met plooie op die gesig en grys hare aan die slape, 'n konserwatiewerige bril op die neus om die indruk te bevestig van iemand met status, iemand met insig, wie se oordeel vertrou kan word, wie se woorde gewig dra.
Ek onthou u van die dae toe u nog redakteur van Die Transvaler was. U sal my waarskynlik nie onthou nie. Ek was die outjie vir wie u in die gang gegroet het met: ``Dag, Boetman.'' Tóé was ek ``Boetman''; twintig jaar later is ek 'n middeljarige blanke Afrikanerman.
My geslag is in die wieg gelê om te speel met woorde; woorde het selde die betekenis gedra waarmee hulle deur verklarende woordeboeke belas was. Dink maar aan begrippe soos ``demokrasie'', ``nasionalisme'', ``selfregering'', ``onafhanklike state'', selfs die eienaam waarvoor van my vriende grens toe gestuur is en sommige selfs witbene gemaak het: ``Suid-Afrika''.
Die ``Suid-Afrika'' van u geskrifte, die ``Suid-Afrika'' waaraan u lojaliteit bely het, was tog iets heel anders, iets veel blankers, as die Suid-Afrika wat ons dis nou wit en swart vandag saam in ons pynlike nuwe volkslied besing.
Dit het ons natuurlik van u geslag geleer, dié slag met woorde. U geslag het die begrippe uitgedink; ons, my geslag, het dit uitgeleef. Want ons is afgerig om nie openlik in opstand te kom nie: ``Ja, Pa, nee, Pa, reg, Pa, goed so, Pa.''
U geslag was die eerste, en moontlik die laaste, in die Afrikanergeskiedenis wat nooit self 'n oorlog gevoer het nie: te laat gebore vir die Tweede Vryheidstryd; te jonk vir die Eerste Wêreldoorlog; te Duits-neutraal vir die Tweede Wêreldoorlog; te hard aan die dink en wonder en staatsbestelle en ander konstellasies beplan en regverdiging soek vir die Grensoorlog.
Julle was die eerste geslag Afrikaners wat jul kinders afgevaardig het om vir julle te gaan sterf.
Dié wat nie jul gek drome wou verdedig met die wapens wat julle aan ons uitgereik het nie, is tronkstraf opgelê; of, erger: mal verklaar. Tóé het hulle al gesê die stelsel is te gek vir woorde dié wat destyds al begryp het, is ``skisofrenies en ongeskik vir militêre diens'' verklaar.
En u? Waar was u? U het u in u skemer kantoor teruggetrek en verkwiklike nuwe woorde en klinkende frases gemunt. Soos u befaamde nuutskeppinge ``verligtes'' en ``verkramptes''.
Eintlik is daar 'n derde kategorie Afrikaner. Die verknogtes. ``Verknog'' soos in ``verknog aan mag'', of eerder, ``verknog aan knoei''. Die woordeboek se definisie van ``knoei'' is: ``slordige, onbedrewe werk verrig; bedrieglik en agterbaks te werk gaan; oneerlike metodes gebruik''.
Verlig, verkramp, verknog.
My pa het altyd gesê: Verwoerd, verward, verwaand.
Weet u dat toe u my ge-``Dag Boetman'' het in Perskor se gange, weet u dat ek toe al 'n getroude man was, 'n pa van twee kinders, so digby die dertig, met 'n huispaaiement om te betaal? Weet u dat my tydgenote die bly-stil-Pa-het-klaar-gepraat-geslag toe met gewere in Angola was om die k... uit ters te skiet? Weet u hoe het die ters die k... uit óns geskiet?
Maar u was te hard aan die dink aan nuwe begrippe om nuwe betekenis en nuwe morele en intellektuele inhoud aan ``afsonderlike ontwikkeling'' te gee. U het u besig gehou met staatsfilosofiese kwessies soos die stelselmatige uitbreiding van die demokrasie wat beslag moes vind in 'n voortreflike driekamerparlement.
Weet u dat toe ek nuusredakteur van Die Vaderland was, weet u dat ek toe vir 'n militêre kamp na Richardsbaai opgeroep is?
Weet u hoe het hierdie vername en vooraanstaande lid van u samelewing sy land gedien? Ek het soggens k...-potte in die army skoongemaak, dit was my daaglikse opdrag.
Ek kla nie, ek is maar net nog een in geslag op geslag Afrikaners wat moes oorlog maak vir my volk se voortbestaan.
K...-potte skoongemaak in die kamp by Richardsbaai. En toe die kaptein hoor hy het hier te doen met 'n vooraanstaande lid van u gemeenskap, toe het hy skaam gekry en hom oor my ontferm.
Toe word ek aangestel om die kantoor van die kaptein se sekretaresse skoon te maak. Ek was immers 'n senior joernalis by 'n vooraanstaande NP-gesinde koerant. Ek het selfs besluit wat Afrikaners mag lees, wat is nuuswaardig en wat is louter s...
Ek was 'n betroubare katalisator. Ek was immers 'n produk van Christelik-Nasionale onderwys; 'n suksesvolle skepping van organe soos u Broederbond.
U, die produk van 'n geslag wat elke oorlog soos die bitter beker by hulle laat verbygaan het. Die geslag wat die las op hom geneem het om sy kinders na die hand te vorm en te giet: bliksoldaatjies wat moes grens toe om te veg, dood te maak en doodgemaak te word, vir julle ideale.
O, ons het medaljes ontvang, ja! Aangesteek Honoris Crux, post mortem, in sommige gevalle met die sterk en vertroude hande van P.W. Botha.
Ons het geleer om ironies te lewe, my geslag. Ons kon nie anders nie; ons moes, ter wille van oorlewing.
``Hou jou bek, luister as daar met jou gepraat word, druk jou kop in die f . . . skrum, dis nie 'n mishoop nie, buk, hoekom is jou hare so lank, laat ons die hoofde buig en God bedank vir al ons seëninge, die kaf...s raak gans te wit, kinders moet gesien en nie gehoor word nie, jy's 'n f . . . troep, verstaan jy, jy sal net opdragte uitvoer, ons sal die politieke probleme oplos...''
Jy het nooit daardie vernedering gesmaak nie. Nie jy of jou hele geslag nie. Julle het bloot die omstandighede daarvoor geskep. Jy stel dit selfs beter as ek: ``Ons (!) kudde-instink en tendens tot gesagsonderwerping maak ons agternalopers van leiers op talle terreine.''
Hoe mooi speel jy met die persoonlike voornaamwoorde ``ons'' en ``hulle'' wanneer jy na Afrikaners verwys; alles om afstand te plaas tussen onderwerp en werkwoord. ``Ek'' vind alte lekker skuiling agter die abstrakte ``ons'' en ``hulle'' en ``Afrikaners'', so asof die gekamoefleerde ``ek'' nooit regtig teenwoordig was nie; geen rede het om self jammer, tot-die-dood-toe-jammer, te sê nie.
En toe kom julle groot geleentheid ... jul uur van waarheid breek aan. Om die ANC die vyand van aangesig tot aangesig oor die slagveld van die konferensietafel te ontmoet. Jare lank het die jongeres die fort gehou. Nou was die kinderspeletjies verby. Nou sou julle die wapen opneem. Julle was slaggereed. Jul woorde was mos geslyp deur jare se oefening.
Maar al jul grootse planne is in 'n paar maande by die veelparty-onderhandelings in Kempton Park ontmasker. Waar was jul sewepunt-planne, jul vyfpunt-strategieë, jul waarborge vir minderhede, toe julle voor verteenwoordigers van die hele land gaan stelling inneem het? Waar was die bravade, die dreigemente, die opruiende toesprake, die beloftes? Ek was daar. Dit was 'n patetiese gesig om te aanskou hoe jul argumente jul waan onder julle uitgeruk word.
Nou sit ons met nuwe vraagstukke. Apartheid is dood, die routyd is verby. Daar word hervorm en getransformeer.
'n Nuwe staat word met vingerklappe bestel. ``Kom, kom, Boertjie. Roer jou gat, Outa het sy eie staat bestel. Staan op aandag. Moenie teëpraat nie, jul dae is verby. Dis jul plig om te help om die nuwe bestel te vestig. Julle moet jul kundigheid aan die opkomende swart elite oordra, só jul bestaan regverdig.''
Wie is die ``julle'' na wie verwys word? Die verknogtes? Nee, hul nesse is geveer. Die verknogtes het 'n historiese ommekeer gemaak, without missing one goose-step, soos Breyten Breytenbach dit stel.
Die elite van die Ou Bedeling het oor hul eendepote geval om vrede te maak en alliansies te vorm met die elite van die Nuwe Bedeling. Hulle kuier oor en weer en bespreek hoë, versoenende begrippe soos staatsbevestigende strategieë, 'n nuwe patriotisme, toewyding aan die nuwe orde.
Die SABC se nuusbaas, Phil Molefe, voer by die Menseregtekommissie aan dat transformasie op die boonste vlakke van die bestuursechelons suksesvol deurgevoer is. Die probleem lê op middelbestuursvlak, waar wit mans nog vasskop teen transformasie.
Ek is 'n wit man. Wat is jou definisie van transformasie, mnr. Molefe? Word van my verwag om my uit my pos te transformeer? Moet ek vrywillig, uit beleefdheid want so is ek grootgemaak jou Africanist dream vir jou uitleef? Wat verwag jy van my? O, ek mag nie 'n standpunt inneem nie. Dankie, mnr. Molefe, dis vir my baie maklik, mnr. Molefe, want ek is so grootgemaak, dr. De Klerk.
Wie is die ``julle'' soos in die ``Hei, julle f... voetsoldate, roer julle gatte'', dié ``julle'' wat nou die offers moet bring vir die nuwe Suid-Afrika? Is dit nie weer dieselfde armsalige drommels wat die Afrikaner-elite se gedoemde oorlog aan die grens en in die townships vir hulle gaan veg het wat nou weer die spit afbyt nie?
'n Psigiater skryf in 'n brief aan Beeld 'n groot gros van my generasie ly aan geestelike uitputting en tamheid. ``In baie gevalle neem dit die proporsie van psigiatriese siektes soos depressie, posttraumatiese stres-versteurings en ander angsversteurings aan . . . 'n algemene rou-reaksie, 'n verliessindroom en 'n eksistensiële krisis.''
Dié sindroom het te make met 'n verlies aan respek vir die verbygegane patriargie ...``Dit het te doen met een ding predik en 'n ander ding doen, met waar en vals, met opreg en skynheilig, en met kommunikasie veel eerder as met taal.''
``Ondanks alles wat bespreek is, is ons 'n volk met regte, roem, prestasie en 'n dapper geskiedenis.'' Só skryf u, dr. De Klerk, op bl. 99.
Dit was Nat Nakasa, of dalk Can Themba, ek kan nie onthou nie, wat op 'n keer vertel het hoe hard hy ook al sy oë toemaak en hom 'n Suid-Afrika sonder wit mense voorstel, hoe onmoontlik blyk hy dit te vind.
Weet u, as ek my oë toemaak en ek verwens u geslag uit die Afrikanergeskiedenis uit, dan bly daar vir my nie soseer 'n volk van helde oor nie, maar bloot aardse, ordentlike mense met wie ek my kan identifiseer: mense gebrei deur die stryd van die onderdrukte, van die ou pedofiel Jan Pieterzoon van Kaspel ter Mare wat in 1659 hier aan die Kaap geland en teen leeus en Nederlandse amptenare die stryd gevoer het totdat hy 'n spogplaas, by name Louwsvliet, by die huidige Nuweland tot stand kon bring; tot by Louis Trichardt wat soos 'n man sy eie dood in Lourenc?o Marques tegemoetgegaan het, 'n korrelkop sonder hoogmoed, in sy Dagboek nie 'n enkele selfregverdigende verwysing na die Bybel, of selfs na die vreemdheid van God, nie; die bittereinder genl. Christiaan de Wet; selfs Louis Botha en Jan Smuts wat bereid was om te baklei en te sterf vir waarin hulle geglo het.
Weet u hoe maklik ek dit vind om my oë toe te maak en u hele geslag die patriargale, beterweterige, rasbehepte lummels uit my geskiedenis weg te dink?
Wat is die grootste prestasie van u geslag, die geslag wat nooit bloed geruik en koeëls hoor fluit en oorlogsangs ervaar het nie; net Groot Gedagtes gedink en lewensfilosofieë gebaar het? Ek bely my subjektiwiteit, maar het u nie al u energie daaraan gewy om die buitewêreld en u kinders om die bos te lei nie?
Was u grootste prestasie nie die mate waarin u daarin geslaag het om soos woordkunstenaars dogmatiese perdedrolle vir morele vye aan ons te verkoop nie?
U sê harde en bitter dinge in u traktaat, soos u self beskeie laat val. Maar waarom in die abstrakte? Waarom ``ons'' en ``die Afrikaner''; waarom nie ``ek'', integraal deel van die meesterras-leerstellinge nie?
U skryf: ``Dit is onteenseglik waar dat die Afrikanerjeug in groot getalle Afrikanerwees met agterdog bejeën.'' Waarom? Waarom nie 'n enkele sin wat bely nie: ``Ek, ek was persoonlik, energiek en doelgerig aandadig aan die mensonterende aberrasie van apartheid''?
Die ironie is dat ek op intellektuele vlak met soveel saamstem wat u skryf; maar dit wil nie die woede verdryf nie. Ek is die bliksem in, die bliksem in vir die arrogansie, die selfregverdiging, die rasionalisasie, die ontkennings, en vir die leuens.
As ons al jou raad volg, kan ons oorleef, ja. Maar as ons jou raad nou volg, staan ons presies waar ons sou gewees het as jou geslag ons nie met apartheid bedrieg het nie; en dan was ons boonop sonder die skuldlas.
Soos altyd, sit ons weer aan die voete van die wysgere. Maar ons word teen die ore geklap. Want die nuwe geslag alwetendes is 'n geslag wat ons verwerp het, saam met die patriargie wat ons vir hulle versinnebeeld. In 'n enkele leeftyd is ons getransformeer van ``bly stil, staan op aandag, doen wat die oom vir jou sê'' tot ``middeljarige wit Afrikanermans wat ly aan 'n magsverliessindroom''. Die gevolg is een en dieselfde: hou jou bek, jy't niks te sê nie.
Verskoon my, korporaal, maar f... jou. Verskoon my, dr. De Klerk. Verskoon my, mnr. Molefe. Verskoon my. Verskoon my, my landgenote, ek het teen julle gesondig. Verskoon my, Sonja Loots, jou geslag is die eintlike kinders van apartheid; julle is nog bloedjonk en onskuldig, die ware slagoffers ek is 'n ou sondaar, besmet met geweerolie, die sweet van die paradegrond, en die bloed van swart kindertjies.
Verskoon my, ek het geen morele reg om my mond oop te maak nie. Ek het nog nooit daardie reg gehad nie; hoe durf ek my dit nou aanmatig?
Wat bly vir my oor? Ek is te oud om heeltemal onskuldig te wees. Ek is te jonk om ten volle aandadig te wees. Ek is te onskuldig om verskonings te versin. Ek is te skuldig om my hande te was.
Ek is gatvol. Heeltemal, tot die keel toe, gatvol daarvoor om opdragte te vat. Eers van die apartheidspatriarge, nou van dieselfde bekeerde pilatus-patriarge en van die nuwe swart elite.
Reeds word die veroordelende sjibbolets entoesiasties oorgeneem deur jong wit feministe met 'n skerp oog vir 'n magsgaping die nuwe klas van onderdruktes, saam met die histories agtergeblewenes: swart mans en veral swart vroue, gestremdes, HIV-besmettes ...
``Hou jou bek, jou middeljarige wit Afrikanerman. Staan op aandag. Luister as ek praat. Jy't f...ol te sê.''
Ek is jammer. Ek is baie jammer. Maar ek is genoeg verneuk. Nou veg ek vir wat vir my van belang is. Binne die demokrasie, ja.
Maar nie noodwendig saam met die voorskriftelike en voorsprekende en die politiek korrekte die idiotiese massa nie.
Jammer.
Hoogagtend die uwe,
Chris Louw
*****
Chris Louw is dood in 2009 nadat hy selfmoord gepleeg het met 'n AK47 van onbekende oorsprong. Hier volg so paar bergite wat sal verduidelik hoe die man gevoel het oor die Nuwe SA teen die tyd dat hy toe besluit het om selfmoord te pleeg:
I'm simply gatvol - Louw
Recently Louw wrote regularly in Beeld and Rapport about the serious crime problem in the area where he lives.
Louw, who was once seen as "left", was later disillusioned to a great extent about the course the country was taking under the ANC government.
On Monday at 14:07, in an e-mail sent to Tim du Plessis, editor of Beeld, he wrote: "I'm simply 'gatvol'. There's no sense in muddling on; dead sooner, rather than later."
Chris Louw dead
Sapa 02 December 2009
Outspoken Afrikaans journalist takes own life
Freedom Front Plus's Pieter Mulder said: "The outspoken way in which Chris Louw had struggled with the problems of South Africa, resulted in nobody being indifferent to him."
"In his last news articles he had, as a former member of the Dakar group, expressed the disillusionment of many South Africans whose high expectations of the new South Africa did not realise."
Mulder continued: "I had great appreciation for the honest way in which he criticised others, but also himself. The fearless way in which he stormed at everything and everyone which he regarded as being dishonest, remains his big contribution to the South African debate."
ARTICLES RELATING TO CHRIS LOUW
'n Reeks skakels na artikels oor en deur Chris Louw
Roekeloos.co.za
http://www.roekeloos.co.za/boekrak/boekra48.html
Boetman en die swanesang van die verligtes
Die uitgewer Human & Rousseau sê daar was lank laas só ´n hoendergekekkel en hondegeblaf op die Afrikaanse werf as toe die joernalis Chris Louw in antwoord op Willem de Klerk se boek Afrikaners: Kroes, kras, kordaat ´n ope brief tot dié gesiene akademikus en verligte gerig het.
Boetman was die bliksem in, en het nie geskroom om dit in reguit taal te sê nie. De Klerk se geslag, wat self nooit in enige oorlog betrokke was nie (was Boetman se betoog), het ´n hele geslag Afrikanermans wat nou so tussen 30 en 50 is, grens toe gestuur om te gaan sterf om ´n misdadige bestel in stand te hou. En dit terwyl die Ooms reeds in die geheim met die vyand gekonkel het om dié bestel tot ´n einde te bring.
Boonop moet dieselfde geslag nou in die werkplek weer die spit afbyt omdat hulle as deel van regstellende aksie deur die voormalige vyand opsy geskuif word. Boetman is steeds die bliksem in, en in dié boek maak hy dit meer as duidelik waarom. Verskeie skreiende ware vertellings en die skrywer se eie lewensverhaal maak dit grafies duidelik hoe die Boetman-geslag gemanipuleer en geknak is, en die tweede deel van die boek is ´n ontleding van die proses wat tot die grondwetonderhandelings en die huidige bestel gelei het.
Klappe word links en regs uitgedeel - nie uit die duim gesuig nie, maar deeglik met aanhalings gestaaf. Die publieke reaksie op Louw se ope brief toon duidelik dat hy ´n teer snaar aangeraak het. In hierdie boek voer hy die debat veel verder, en seil hy nogmaals kaalvuis onder die Ooms in - nie om blindelings terug te kap nie, maar om ´n katarsis en uiteindelik ´n genesing te probeer bewerkstellig.
Boetman en die swanesang van die verligtes behoort op die rak van elke Afrikaner te staan. " .´n merkwaardige en belangrike stuk werk ." noem Van Zyl Slabbert dit.
Chris Louw is nou 27 jaar lank in die joernalistiek. Sy loopbaan het in 1973 by die destydse Oggendblad in Pretoria begin. Na ´n draai by Die Republikein in Namibië, was hy onder meer nuusredakteur van Die Vaderland en Londense verteenwoordiger van Perskor (1983-1986). In 1986 het hy om politieke redes by Perskor bedank, ´n tyd lank vryskutwerk gedoen, en hom daarna by die linkserige meningsblad Die Suid-Afrikaan aangesluit waarvan hy mettertyd redakteur geword het.
Na ´n paar ander draaie het Chris in Desember 1995 as uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum, die aktualiteitsprogramme van Radiosondergrense, geword. Hy woon op ´n kleinhoewe by die Hartbeespoortdam waar hy inheemse bome kweek en kortsnoetvarke aanhou. Hy is getroud met Johanita, en het twee volwasse kinders, Eugene en Yolande.
Boetman en die swanesang van die verligtes kan bestel word op Human & Rousseau se webblad of stuur navrae aan Hilton Ruthford.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment