Wednesday, 23 May 2012

’n Bitter grap

Hierdie moet gelees word saammet en teen die agtergrond van "Boetman is die Bliksem in"

Lees ook "Rian Malan se punt is die bitter ironie"

Deur Rian Malan
Boeke24
2012-05-20 21:41
As hy in Willie Esterhuyse se skoene gestaan het, sou hy seker nes die professor opgetree het, skryf Rian Malan . Maar as hy vandag die storie sou vertel, sou hy skaars sy lag kon hou.

Eindstryd
Willie Esterhuyse
TAFELBERG, R225

Ek dink ek moet met ’n joernalistieke ontboeseming begin: By die eerste lees het Eindstryd my baie kwaad gemaak, om redes wat ek nie mooi kon peil nie.

Per slot van sake stem ek met prof. Willie Esterhuyse oor feitlik alles saam: Apartheid móés padgee, en die laat 1980’s was die geleë tyd.

As die Nasionale Intelligensiediens (NI) my gevra het om hoogs geheime vredesamesprekings met die ANC te begin, sou ek ja gesê het.

Ek sou miskien selfs geval het vir oudpres. Thabo Mbeki se legendariese sjarme, soos wel met Esterhuyse gebeur het, en strategiese ANC-standpunte gesteun het in die vredesamesprekings wat gevolg het.


Ek sou net graag wou glo dat ek vandag sou getwyfel het oor die uiteindelike uitslag.

Selfs dit is ’n bietjie onbillik teenoor Esterhuyse, want hy erken die ANC-bewind het in belangrike opsigte misluk.

Waarom dan my woede? Ek skat dis omdat Esterhuyse, soos Nadine Gordimer, Max du Preez, Ben Turok en ander hedendaagse bekeerlinge tot skeptisisme nie gebore in staat is om te erken sy afkeer van apartheid het hom verblind vir die ware aard van dié wat dit probeer omverwerp het nie.

Soos almal teen hierdie tyd weet, is Esterhuyse die man wat die ­NI-hoof Niel Barnard gekies het om die ys te breek met die ANC en die bloedige skaakmat tussen wit en swart te be­ëindig. Soos al Barnard se skuiwe was dit wys.

Esterhuyse was ’n pilaar van die Afrikaner-establishment, op voornaamterme met senior NP-politici en sakeleiers soos Anton Rupert.

Daarteenoor was hy ’n bekende verligte, wie se boek Afskeid van apartheid in 1978 die Afrikaner-establishment in sy fondament geskud het. Dit het hom vir albei kante minstens gedeeltelik aanvaarbaar gemaak en dus die ideale tussenganger.

En dis hoe dit gekom het dat Esterhuyse in Oktober 1987 na Londen gevlieg het met ’n aktetas vol NI- spioenasie-foefies.

Die ontmoeting

Esterhuyse se sending was om voelers uit te steek na die ANC, wat in daardie stadium ook oor die afgrond gereik het om te sien of daar enigiemand aan die ander kant was om mee te praat.

Volgens hom was die kamerade vasbeslote om uit te vind “what manner of beast” die Boere was.

Esterhuyse was die verkeerde man om te vra, want hy was allesbehalwe ’n “beast”. Hy is ’n fyn beskaafde mens, lief vir goeie wyn en diep gedagtes en was dus ’n maklike prooi vir Mbeki, die ANC se Prince Charming.

Binne enkele minute van hul eerste ontmoeting het Mbeki Esterhuyse laat glo hulle is geesgenote met ’n gedeelde lotsbestemming en boonop ’n gemeenskaplike liefde vir die Engelse digter W.B. Yeats.

Esterhuyse was nie die eerste wat voor Mbeki se liste geswig het nie, maar hy het besonder hard geval. Aan sy NI-kontakte het hy gesê Mbeki is “die soort mens aan wie ek my lewe sal toevertrou” – ’n sentiment wat oortref is deur net Frederik van Zyl Slabbert, wat gesê het: “I would die for this bugger.”

Slabbert het later darem erken Mbeki het hom heeltemal verneuk, maar Esterhuyse het nog nie by daardie punt uitgekom nie.

(Volgens die biografiese aantekeninge in Eindstryd is hy ’n trustee van die Thabo Mbeki-stigting en “samesteller” van twee versamelings van Mbeki se toesprake.)

Wie was Mbeki?

Esterhuyse het besef Mbeki is ’n buitengewoon vaardige manipuleerder wat waarskynlik tydens onderhandelinge kringe om die Afrikaners sou hardloop, maar dit het hom nie gekeer om Mbeki se woord in feitlik elke opsig te aanvaar nie.

Ek kan tientalle voorbeelde hiervan noem, maar die veelseggendste is Esterhuyse se blinde aanvaarding van Mbeki se uitbeelding van homself as ’n eensame duif in ’n organisasie oorheers deur bloeddorstige militantes.

Dit was ’n set wat Mbeki gereeld gebruik het om wit Suid-Afrikaners te laat glo dat, tensy hulle toegewings maak aan ’n gawe kêrel soos hy, Mbeki, hulle op die ou end te doen gaan kry met nare kommuniste soos Joe Slovo en Chris Hani.

Maar Mbeki was self ’n kommunis en op die koop toe ’n seepgladde leuenaar. Volgens Mark Gevisser het hy op ’n keer uit vredesamesprekings met die NP reguit na ’n geheime vergadering met die SAKP gevlieg, waar hy ’n voorstel gesteun het vir ’n “magsoorname” deur “massa-opstand”.

Wie was die ware Mbeki? En watter speletjie het hy gespeel?

Esterhuyse sê Mbeki het onwrikbaar geglo in People’s War , daardie dogma wat die Viëtnamese kommuniste gebruik het om die Amerikaners in 1975 te verslaan.

Maar Gen Giap se dogma is hoegenaamd nie die formule vir vrede deur onderhandelinge wat Esterhuyse beskryf nie. Trouens, dis ’n formule vir verneukery.

Volgens People’s War is onderhandeling slegs ’n metode om die vyand te verdeel en die kans op magsoorname uit te brei.

As ’n mens nou terugkyk, is dit presies wat die ANC in die laat 1980’s en die vroeë 1990’s reggekry het: met die een hand vrede aanbied, maar met die ander die kaders bewapen en sy magsbasis ongenaakbaar uitbrei.

As dit waar is, soos Esterhuyse beweer, dat Mbeki die “hoofargitek” van hierdie People’s War-benadering was, dan het hy daarin geslaag om die hele wêreld te flous, my inkluis.

Ek moet dus liewer my bek hou. As ek langs Mbeki gesit het op die dag toe F.W. de Klerk die inperking van die ANC opgehef het, sou ek my waarskynlik oorgegee het aan gevoelens van “broederskap en kameraderie” – presies soos dié wat Esterhuyse beskryf.

Ek sou dalk selfs die toekomstige president geglo het toe hy sê dat “selfverryking en korrupsie” in ’n vrye Suid-Afrika “tot elke prys vermy moet word”.

Maar as ek vandag die storie sou vertel, sou ek skaars my lag kon hou. Dit sou ’n bitter grap wees, ten koste van myself.

Rian Malan is ’n joernalis en skrywer.


Van links staan oud-pres. Thabo Mbeki, die regsgeleerde Gerhard Erasmus, akademikus Jannie Gagiano en kunstenaar Hardy Botha, saam afgeneem by die baanbrekende eerste Dakar-beraad in Oktober 1987. Foto: Verskaf


Mbeki en Chris Hani, in die vroeë 1990’s afgeneem deur Joe Sefale. Foto: JOHNCOM


Onderhandelinge in die presidensie in Augustus 1990. Die Nasionale Party-lede is van voor: Kobie Coetsee, Pik Botha, F.W. de Klerk en Adriaan Vlok. Die ANC-manne was Joe Modise, Alfred Nzo, Nelson Mandela, Joe Slovo en Mbeki. Foto: Die Burger

Om die oorspronklike artikel te lees, klik HIER

No comments:

Post a Comment